Not Logged in
SARL News Bulletin Archive



Home

Bulletin by e-mail
Bulletin Archive


SARL-NUUS SONDAG 15 APRIL 2012

U luister na ZS6SRL, die amptelike radiostasie van die Suid-Afrikaanse Radioliga, die nasionale vereniging vir amateurradio in Suid-Afrika, met 'n nuusbulletin wat elke Sondag om 08:15 SAT in Afrikaans en om 08:30 SAT in Engels uitgesaai word. Vir oudio gaan na www.sarl.org.za, klik op 'Amateur Radio Today' en volg die skakels soos aangedui. Vir oudio deur Echolink, koppel met ZS0JPL-R.

Hierdie en vorige bulletins kan van www.sarl.org.za afgelaai word en u kan ook daar inteken om toekomstige bulletins per e-pos te ontvang.

U nuusleser is (naam en roepsein), op 145,725 MHz vanuit Pretoria, met herleidings op 7,066 en 3,695 MHz ESB. (Ander nuuslesers verander soos toepaslik.)

STIL SLEUTEL

Dit is met leedwese dat ons moet bekend maak dat die sleutel van Christiaan van Zyl, ZS6CVZ, op 26 Maart 2012 in die ouderdom van 82 jaar stil geraak het. Christiaan het ook voorheen die roepsein VQ2VZ gehad.
Christiaan het vyf geslagte bekend gestel aan die vreugde van amateurradio en laat twee kinders en drie kleinkinders na, almal met ZS-roepseine.

Ons innige meegevoel aan sy familie en vriende.

(POUSE)

IN DIE NUUS VANDAG:

LAASTE KANS OM TE REGISTREER VIR DIE SARL NASIONALE KONVENSIE
WêRELDAMATEURRADIODAG
SWEEDSE PROGRAMMATUUR-GEDEFINIEERDE RADIO OP DIE WEB
U luister na ZS6SRL. Bly ingeskakel vir meer besonderhede oor hierdie en ander belangrike en interessante items.

LAASTE KANS OM TE REGISTREER VIR DIE SARL NASIONALE KONVENSIE

Registreer voor Woensdag indien u beplan om die SARL Nasionale Konvensie van 20 tot 22 April in Pinetown, by te woon. Al die besonderhede is beskikbaar op www.sarl.org.za.
Die konvensie begin met ‘n vingerete en kennismaakaand by die Highway Amateurradioklub se klubhuis. Leer meer oor hoe die Suid-Afrikaanse elektronikanywerheid in Pinetown begin het. Op Saterdag begin die AJV met registrasie van volmagte om 08:00 – die vergadering begin om 09:00.
U kan die AJV-verrigtinge op 145,750 volg met ZS6FCS in Pretoria, op 145,250 met Pieter en op 7082 met Quartus, ZS6EE. Die oudio sal ook op echolink beskikbaar wees.
Op Saterdagmiddag is daar twee opwindende aanbiedings. Bou BHF-antennes met Rob Cohen, ZS6LA, en leer van DX-werking en ‘Logbook of the World’ met Chris Burger, ZS6EZ. Die jaarlikse dinee begin met drankies om 18:30 en die ete self begin om 19:00.
Die gasspreker is Dr. Andrew Collier, Bestuurder, Golf- en Ruimteplasmagroep by SANSA Ruimtewetenskap by die Hermanus Magnetiese Observatorium. Hy is ook ‘n senior dosent by die Universiteit van KwaZulu-Natal.
Elke persoon wat die dinee bywoon sal deelneem aan die uitloot van ‘n groot aantal pryse, wat die volgende insluit: ‘n dubbelband mobiele senderontvanger, die Yaesu FTM-10, geborg deur Verstay, polshorlosies geborg deur ‘Natal Jewelry Wholesalers en J-paal antennes.
Registreer vir die konvensie en dinee by www.sarl.org.za en volg die skakel vanaf die tuisblad of skakel Mariska by 011 675 2393. Doen dit asseblief voor 16:00 op Woensdag 18 April.
Indien u as ‘n lid, nie kan bywoon nie, kan u volmag gee aan ‘n ander lid wat wel bywoon. Besonderhede is op www.sarl.org.za.

WÊRELD AMATEURRADIODAG
Op 18 April 2012 sal radioamateurs Wêreldamateurradiodag vier. Dit is die 87ste herdenking van die stigting van die Internasionale Amateurradio-unie of IARU. Hierdie jaar se tema is "Amateurradio Satelliete: Herdenking van 50 Jaar in die Ruimte". Die tema is ter herdenking van die lansering van OSCAR 1 op 12 Desember 1961 en die lansering van OSCAR 2 op 2 Junie 1962.
In 1924 het die ARRL-president ‘n sakereis na Europa geskeduleer. Terwyl hy in Europa was, het die ARRL se Raad van Direkteure hom gevra om die ARRL te verteenwoordig in die daarstel van internasionale betrekkinge tussen amateurs.
Na ‘n informele vergadering in 1924, het verteenwoordigers van Frankryk, Groot Brittanje, België, Switserland, Italië, Spanje, Luxemburg, Kanada en die Verenigde State ‘n plan opgestel om in 1925 in Parys, Frankryk, ‘n internasionale amateurkongres te hou met die doel om die IARU te stig. Verteenwoordigers van Europa, Noord-Amerika, Suid-Amerika en Asië, het die kongres bygewoon en op 17 April ‘n konstitusie vir die IARU aanvaar. Op die sluitingsvergadering die volgende dag, is beamptes verkies en die handelinge van die kongres is deur verteenwoordigers van 25 lande bekragtig. So het 18 April die amptelike ‘verjaarsdag’ van die IARU geword en word nou ‘Wêreld Amateurradio-dag’ genoem.
Daar sal verskeie spesiale geleentheidstasies van IARU-lidlande aktief wees op verskillende datums gedurende April:
Suid-Afrika - ZS6IARU, sal aktief wees op 18 April. QSL via ZS4BS.
Bulgarye - LZ1WARD, deur die Bulgaarse Federasie van Radioamateurs sal aktief wees in April. QSL via die buro.
Switserland - HB9WARD, deur die Union Schweizerischer Kurzwellen-Amateure sal aktief wees op 18 April. QSL via HB9JOE.
Pole - HF87WARD, deur lede van die SP-CFF wat aktief sal wees vanaf 17 tot 30 April. Daar is ook 'n toekenning beskikbaar. QSL via eQSL.cc en WFF LogSearch.
Liberië - EL2RL, deur die Liberië Radioamateurvereniging, aktief op 18 April. QSL direk aan EL2BA.
Mexiko - 6H6IARU, deur die Federación Mexicana de Radio Experimentadores, aktief vanaf 13 tot 18 April. QSL via LoTW en N7RO.
Chili - 3G87IARU, deur die Radio Club de Chile, aktief deur die maand van April. QSL via CE3AA

REGISTREER NOU VIR DIE SA AMSAT RUIMTESIMPOSIUM

Besonderhede van SA AMSAT se ruimtesimposium, wat op Saterdag 12 Mei by die Universiteit van KwaZulu-Natal gehou sal word, is nou beskikbaar op www.amsatsa.org.za. Die tema van die simposium is 50 jaar van amateur-satelliete, om die lansering van Oscar 1 vyftig jaar gelede te herdenk.
Die program is vol opwindende aanbiedings en demonstrasies.
Registreer vroeg en spaar op die registrasiegeld.

AMATEURRADIOBOEKE BY DIE SARL NASIONALE KONVENSIE

‘n Aantal amateurradioboeke sal by die SARL Nasionale Konvensie te koop aangebied word. Dit sluit hardeband eksemplare van die ‘2012 ARRL Handbook’ en die ‘ARRL Antenna Book’ in. U kan nou boeke bestel, aanlyn betaal en die boeke by die nasionale konvensie ontvang. Besonderhede van beskikbare boeke is te vinde op www.amateurradio.org.za. Betaling by die nasionale konvensie sal slegs met kontant of tjeks kan wees, geen kredietkaarfasiliteite is beskikbaar nie.

SWEEDSE PROGRAMMATUURGEDEFINIËERDE (SDR) AMATEURBAND ONTVANGER OP DIE NET

‘n Nuwe aanlyn programmatuurgedefineerde radio, gesetel in Swede en ingestel vir ontvangs op die 75, 60, 40 en 20 meter amateurbande, is nou op die Internet beskikbaar. Dit is in die stad Mora en word deur SM4JLX in stand gehou. Die stelsel bestaan uit drie Soft66lite ontvangers and banddeurlaatfilter. Beide Java en JavaScript vir die net moet geïnstalleer wees op u rekenaar en werk vir die behoorlike bedryf van hierdie programmatuur-gedefinieerde radio. U kan dit aanlyn hoor by tinyurl.com/sweden-sdr.

WEDSTRYDNUUS
Die SARL Hamnet 40 m gesimuleerde noodkompetisie is op Sondag 4 Maart gehou. Die wenners van die verskillende kategorieë is:
Enkeloperateur stilstaande mobiel: Andy Cairns, ZS6ADY.
Enkeloperateur draagbaar: Christo Kriek, ZR6LJK.
Multi-operateur: geen inskrywings nie.
Basisstasie: Francois Reyneke, ZS6FDX.
Die tellings behaal is soos volg:
Vir enkeloperateur stilstaande mobiel:
Eerste, Andy Cairns, ZS6ADY, met 672 punte.
Tweede, John Kramer, ZS5J, met 460 punte.
Derde, Nico Oelofse, ZS4N, met 405 punte.
Vir enkeloperateur draagbaar:
Eerste, Christo Kriek, ZR6LJK, met 504 punte.
Tweede Al Akers, ZS2U, met 468 punte.
Derde, Keith Liddle, ZS6AGF, met 414 punte.
Vir basisstasie:
Eerste Francois Reyneke, ZS6FDX, met 1170 punte.
Tweede Peet Pretorius, ZS4VP, met 1005 punte.
Derde, Pieter Jacobs, ZS6XT, met 975 punte.

Die SARL Maartmalligheid JD-naelloop is op Saterdag 10 Maart gehou.
Eerste, Colette Rundle, ZS2CR, met 24 punte.
Tweede, Dawn Snyders, ZS5ME, met 15 punte.
Derde, Theunis Potgieter, ZS2EC, met 9 punte.
Vierde, Derek Stuart, ZS2J, met 7 punte.
Vyfde, Peet Pretorius, ZS4VP, met 3 punte.

Die tweede SARL 80 m Klubkompetisie is op Woensdagaand 28 Maart gehou, dit was ‘n foonkompetisie.
Eerste, Wes-rand ARK – met 146 punte van 11 logs.
Tweede, Bloemfontein RAK – met 36 punte van 2 logs.
Derde Port Elizabeth ARV - 10 punte van 1 log.
Al die uitslae verskyn in “HF Happenings” 499 en 500. Baie geluk aan al die deelnemers en dankie dat u deel geneem het.

KLUBNUUS

Die Wesrand Amateurradioklub hou sy volgende snuffelmark om 12:00 op Saterdag 28 April 2012 by die klubhuis in Krotonstraat, Weltevredenpark, Roodepoort. Almal is baie welkom. Vir meer inligting skakel Phillip, ZS6PVT, by 083 267 3835.

HF VOORTPLANTINGSVOORSPELLING

Hannes Coetzee, ZS6BZP, berig dat die sonaktiwiteitsvlak laag gaan bly. Nuwe sonvlek 1455 is besig om te groei en produseer heelwat lae intensiteit klas-B fakkels.

Vir diegene wat hulle eie frekwensievoorspellings doen, is die verwagte effektiewe sonvlektelling vir die week ongeveer 29.

Al die DX bande van 20 tot 10 m gaan pret wees met 15 m wat die beste openinge gaan oplewer en 10 m net 'n kort kop agter.

Besoek gerus www.spaceweather.co.za vir meer inligting.

DAGBOEK VAN GEBEURE

18 April, wêreld amateurradio-dag.
20 tot 22 April, SARL Konvensie in Pinetown.
28 April - Wesrand Amateurradioklub se snuffelmark om 12:00.
12 Mei, SA AMSAT ruimtesimposium; besoek www.amsatsa.org.za vir besonderhede en registrasie.

SARLNUUS nooi klubs en individue om nuusbrokkies wat radioamateurs en kortgolfluisteraars sal geniet, in te stuur. Stuur dit - indien moontlik - in beide Engels en Afrikaans, na www.sarl.org.za/newsinbox.asp, nie later as die Donderdag voor uitsending nie.

Die SARL nooi u ook om te luister na die program Amateurradio VANDAG wat om 10:00 SAT op 145,750 MHz in die Pretoria-gebied uitgesaai word, met herleidings op 7 082, 7 205 en 17 760 kHz. Daar is ook 'n potgooi-uitsending deur ZS6RO. Vir oudiostrome en Echolink deur ZS6FCS, besoek www.sarl.org.za, klik op 'Amateur Radio TODAY', gaan af op die groen kolom en klik op 'LISTEN ON THE WEB'. 'n Heruitsending vind Maandagaande om 17:30 UTC op 4 895 kHz plaas. Sentech borg die uitsendings op die nie-amateurfrekwensies.

U het geluister na 'n bulletin van die Suid-Afrikaanse Radioliga, saamgestel deur Fritz, ZS6SF.

Dankie dat u geluister het, 73.

/EX


Copyright © 1997- 2006  South African Radio League
Last modified: 14 April 2003